Die klankbaan

Bydraes vir die diensplig.org-projek het gesprekke op sosiale media, kommentaar op nuusberigte, e-posse, stemopnames, telefoniese onderhoude en werkwinkels ingesluit. Daantjie Badenhorst, 2004 se wenner van die TV-program Noot vir Noot, het ’n lys van trefferliedjies bygedra. Almal was destyds groot treffers, en sluit ook persoonlike gunstelinge in. Oor André Letoit se “Vêr van die ou Kalahari” sê hy: “Die eerste keer toe ek dit hoor, wou ek dadelik weet wie is hierdie ou wat so vloek. André, oftewel Koos Kombuis, soos hy later bekend staan, het my geleer dat Afrikaners anders kan dink.”

Daantjie se Dienspligtrefferparade

Rodriguez - Cold Fact

“Hy het ‘n hele geslag manne wat gedurende die 1970’s diensplig gedoen het laat wonder. - Andre Fourie

Voëlvry Toer - Gereformeerde Blues Band

This system's gonna fall soon, to an angry young tune

And that's a concrete cold fact

Wanneer my pa in die garage doenig was, het ek geweet dis ‘n spesiale dag in die week, ‘n Saterdag. Die Ford Cortina is in die oprit parkeer. Die ou Passat het binne die garage bly staan. Die garagedeur toe, seker omdat die geraas die opkomende middelklasbure in die voorstedelike singel sou steur. Dalk moes die Passat die saagselwolke trotseer omdat dit ons enigste tape speler gehad het, wonder ek nou. Venster op ‘n skrefie oop - groot genoeg vir klank om uit te kom, klein genoeg om die stof uit te hou. Daar kon my pa wegraak, in sy donkerkamer onder die flikkerende buislig, doenig met sy hande. Die Passat het rondom my sesde verjaarsdag die gees gegee, en die tapes waarna hy geluister het, het weggeraak.

Eers in my twintigs, op soek na nuwe musiek wat anderkant die algoritmes loop, herontdek ek dit. Die klankbaan van my kleuterjare: die knaende kreun van ‘n skaafmasjien, en Rodriguez se futlose rebellie teen die establishment. Buitestaander, miskende skepper, handemens, onverskrokke cool.

Ek sou nou nie sê my pa was cool nie. Hy het nooit CD’s vir die ECC uit sy boot verkoop, lang hare gehad, of in Hillbrow gaan paartie nie. Maar hy was cool op sy eie manier, en hy het daai Cold Fact tapie opgeluister, sodanig dat my kleutergeheue dit kon koester. Thanks for your time, Rodriguez. Jy het vir dié wat gewaag het om dinge te bevraagteken ‘n litanie gegee.

(A.H. 10.08.23)